Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Leesprobleme

Lees is die belangrikste vaardigheid wat 'n kind op skool moet verwerf, want hy leer om te lees met 'n bepaalde doel voor oë — sodat hy kan lees om te leer. Om behoorlik te kan lees is dus die grondslag van, of voorvereiste vir leersukses op skool, en uiteindelik ook 'n belangrike bepaler van 'n mens se beroepsukses in die toekoms.

'n Kind, wat nie behoorlik kan lees nie, se toekoms is duister. Die swak leser het nie net 'n agterstand teenoor goeie lesers nie, maar in werklikheid bou hy met verloop van tyd 'n al hoe groter agterstand teenoor goeie lesers op. Soos wat Stanovich dit in 'n artikel in die Reading Research Quarterly uitdruk, "die armes word al hoe armer en die rykes word al hoe ryker."

Die oplossing lê in die oorsaak

Tensy mens weet wat 'n probleem veroorsaak, kan mens dit nie oplos nie. 'n Siekte soos skeurbuik het die lewens van derduisende matrose op lang seereise geëis. Die siekte is vinnig hokgeslaan toe die oorsaak van die probleem, naamlik 'n tekort aan vitamien C, ontdek is. 'n Goeie vertrekpunt sal dus wees om die vraag te vra: "Wat veroorsaak leesprobleme?"

Om die oorsaak van leesprobleme te verstaan, is dit belangrik om te weet dat leer 'n laagsgewyse gebeure is. Dit beteken dat daar 'n bepaalde volgorde merkbaar is by leer. Sekere dinge moet eers aangeleer word, voordat dit moontlik word om ander dinge aan te leer. Die wyse waarop skoolstelsels oral in die wêreld georganiseer word, is 'n erkenning hiervan. 'n Mens kan nie jou kind eers universiteit toe, of na enige hoër klas toe stuur nie. Hy moet by die eerste klas begin, en dan jaar na jaar na hoër onderwysvlakke vorder.

'n Verdere eenvoudige en praktiese voorbeeld is die feit dat 'n kind eers geleer moet word om te tel, voordat dit moontlik word om hom te leer om op te tel en af te trek. Om te kan tel is dus ‘n voorvereiste om berekenings te kan doen.

Hierdie laagsgewyse eienskap van leer kan ook aan die hand van sport, byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat 'n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne 'n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as 't ware geoutomatiseerd geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy, byvoorbeeld, begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy opponent te stamp of te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar 'n verskeidenheid van vaardighede is wat 'n voorvereiste vir die spel yshokkie is, so is daar 'n verskeidenheid vaardighede wat laagsgewys een na die ander aangeleer moet word en wat as voorvereistes vir lees dien.

Met programme van wêreldgehalte, insluitend rekenaartegnologie, bevorder Edublox dié vaardighede wat die boustene van lees — en daarom ook van leer — is. Vaardighede sluit die volgende in:

  • Aandag en konsentrasie
  • Persepsie — visueel, ouditief en hapties
  • Die vermoë om te kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer in terme van voorgrond-agtergrond, vorm, grootte, kleur, en posisie in die ruimte
  • Spoed van prosessering
  • Fonemiese bewustheid
  • Geheue — kort- en langtermyn, visueel en ouditief
  • Die vermoë om te kan dekodeer en inligting te integreer.

Hoe om ‘n leesprobleem te herken:

‘n Ouer wat enige van die simptome, wat hieronder beskryf word, in sy of haar kind opmerk, behoort te weet dat die kind hulp nodig het:

  • Een van die mees ooglopende tekens is omkerings. Kinders met hierdie soort probleem verwar dikwels letters soos b en d, wanneer hulle lees óf wanneer hulle skryf.

  • 'n Ander besliste teken is weglatings, dit wil sê wanneer 'n kind soms "staf" lees of skryf wanneer die woord eintlik "straf" is.

  • Die kind wat stadig of huiwerig lees, wat hakkelrig lees, woord vir woord, of wat aanhoudend sy plek verloor, en dan hele stukke uitlaat of dieselfde reël twee keer lees.

  • Hy mag woorde spel soos wat hulle klink, soos "sienkie" pleks van "seuntjie".

  • Hy mag met swak begrip lees, of miskien min onthou van wat hy lees.

Sommige kinders slaag daarin om vir 'n lang tyd hul onvermoë om te lees weg te steek. Hulle vra die ouer om vir hulle 'n bladsy voor te lees, en dan "lees" hulle dit daarna. Wat in werklikheid gebeur, is dat hulle die stukkie memoriseer terwyl die ouer dit lees, en dan herhaal hulle dit eintlik volgens geheue. Dit is eers later, wanneer die leeswerk wat hulle moet doen, te veel word om suksesvol te memoriseer, dat hulle onvermoë om te lees openbaar word.